“Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie,
want God is liefde.” 1 Joh. 4:8.
God is liefde, en ons is gemaak na die beeld van God.
God het ons dus só geskep dat ons moet liefhê,
en in verhoudings moet leef.
Ons kan nie sonder verhoudings leef of oorleef nie.
Ons kan net binne verhoudings liefhê.

Daar is drie verhoudings waarbinne ons lewe.
Na Bo: Ons verhouding met God.
Hoe ons God ontmoet en ervaar in ons daaglikse lewe.
Na buite: dit het te doen met letterlik al die mense,
wat daagliks op ons pad kom.
Na binne: dit gaan oor ons verhouding met ons innerlike self.
Daardie persoon wie ons is wanneer niemand kyk nie.

Navorsing, oor wat mense gelukkig maak,
het bewys dat dit nie sukses, geld, of besittings is nie,
ook nie status of prestasie nie, maar verhoudings!
‘n Wyse man het vir sy studente gevra hoe mens kan onderskei
wanneer die nag verby is, en die dag begin het.
“As jy ‘n dier op ‘n afstand kan uitken”, het een gesê.
“As jy ‘n vrugteboom aan sy vrugte kan onderskei, op ‘n afstand”,
het ‘n ander student gesê.
“Nee”, het die wyse man geantwoord,
“eers wanneer jy in die gesig van enige ander mens kyk,
en sien dat hy of sy jou broer of suster is.
Want as jy dit nog nie kan doen nie, bly dit nog nag in jou lewe”.

God is in elke mens met wie jy elke dag te doen kry.
Behalwe dat elke mens ‘n skepsel van God is, na sý beeld,
het die Here ook in Matteus 25:45 gesê:
“Dit verseker Ek julle:
Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie,
het julle dit aan My ook nie gedoen nie”.

Sören Kierkegaard, die bekende teoloog, het gesê:
“Om ‘n ander persoon lief te hê, is om hom te help om God lief te hê.”

Ernest