Prediker 4:9-10 sê:
“Twee vaar beter as een. As die een val, kan die ander hom ophelp.
Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.”
Vers 12 sê verder: “Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied.”
God het ons nie gemaak om alleen deur die lewe te gaan nie.
John Milton het gesê:
“Eensaamheid was die eerste ding wat God se oog gevang het,
en waarvan Hy gesê het dat dit nie goed is nie.”
Dit was nie fisiek, emosioneel, of geestelik goed nie.
Ons het mekaar nodig.
Om alleen deur die lewe te gaan het sy voordele vir sommige mense.
Maar die nadele daarvan is baie meer.
Verhoudings soos familie, vriende, mentors, liefdesverhoudings,
al hierdie verhoudings, impliseer ‘n ondersteuningsnetwerk.
Die Hollies het ‘n trefferliedjie gehad met die titel:
“He ain’t heavy, he’s my brother”.
Agter hierdie liedjie sit die wonderlike verhaal van ‘n priester in Amerika,
wat lank terug op ‘n seun afgekom het wat ‘n kreupel seun dra.
Hy het hom gevra of die seun nie te swaar is om te dra nie.
Die seun se antwoord was:
“He ain’t heavy, he’s my brother”.
Dit het ook later die visie geword van die bekende Boy’s Town.
Dit is ‘n plek waar kinders wat wees en alleen agtergelaat is,
versorg en gedra word.
God plaas ons in verhoudings, sodat ons nie alleen moet wees nie,
nie in die vreugde of swaartye van die lewe nie.
In gesonde verhoudings bewonder ons mekaar, ook mekaar se prestasies,
en gun ons elkeen sy plek onder God se son van genade.
Ons bid ook vir mekaar en is nie ‘n bedreiging vir mekaar nie.
Deur verhoudings ervaar ons die omgee van God self!
Dit is hoe God werk.
Deur verhoudings.
Koester jou verhoudings.
Ernest