“‘n Nederige mens is allermins iemand wat minderwaardig voel.
Hy is iemand wat God se mening omtrent sy lewe aanvaar.
In homself is hy niks, in God alles.
Hy weet baie goed dat die wêreld hom nooit sal sien soos God hom sien nie.
En dit pla hom geensins nie” – A. W. Tozer.
Daarom is dit soveel méér moontlik om waarlik lief te hê, as jy nederig is.
Die Here het die hele Wet saamgevat met die woorde
dat jy God bo alles moet liefhê en jou naaste soos jouself.
Die kern van die Wet is liefde en nogmaals liefde.
John Ortberg skryf in “Soul Keeping”:
“Die Tien Gebooie vloei voort uit hoe ons gemaak is,
en wie ons bedoel is om te wees. Dis hoekom – wanneer ons ‘n gebod oortree –
ons nie soseer die wet breek nie, maar onsself.
Ons lees die Tien Gebooie as ‘n stel reels wat sê: “Dis wat jy moet dóén”,
maar Gód sê hiermee: “Dis wie jy ís”.
Wanneer ons nederig is, en heelhartig liefhet,
maak ons God “op sy gelukkigste”, sê Gary Thomas.
Dit is die uitvoering van die Wet, die lééf daarvan!
Laat nederige liefde jou lei in wat jy dink en doen.
Ontdek so die dieper verhouding met jouself, jou naaste, en God.
So bou jy ‘n brug tussen jou hart en die van iemand anders.
En jy laat die Here daaroor stap.
Jy kan nie vyande na die Here toe bring nie.
Voor mense Jesus, wat jy na hulle toe wil bring, kan vertrou,
moet hulle jóú kan vertrou.
“…in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself” – Fil. 2:3.
Ernest