In 1 Konings 17 lees ons die merkwaardige gebeure van God wat voorsien.
‘n Weduwee van Sarvat is in ‘n 99-situasie.
Sy gaan haar en haar seun se laaste broodjie bak.
Daarna sou hulle van honger moes sterf.
Dan kom Elia daar aan en vra ook nog vir haar water en brood.
Toe sy vir Elia vertel hoe benard haar situasie is,
gee hy haar die versekering dat sy maar net gehoorsaam moet bly,
omdat die Here vir haar en haar seun sál sorg.
Teen alle logika in doen sy wat hy vra.
Hierna verander alles.
Haar meelkruik raak nie leeg nie, en haar olie raak nie op nie.
En saam met dit gee God aan haar die diep wete,
dat Hy haar Here en haar God is!...vir altyd!
Ons was al in daardie 99-situasie,
wanneer ons iets baie graag wil hê, maar dit nie kan kry nie.
Wanneer ons selfs intens bid, maar geen uitkoms in sig is nie.
Dit laat selfs vraagtekens by ons opkom oor God se trou.
Maar “nie verstaan tyd” is inderdaad “vertrou tyd”.
Om, sonder dat iets sin maak, te glo en te vertrou die Here weet beter.
Dalk is dit nie waarop jy gehoop het nie.
Maar dit is juis dít wat jy nie verwag het nie, wat jou op ‘n ander manier seën.
Dit maak jou ryper, dit wortel jou dieper in die Here, dit laat jou sterker groei,
dit bring jou op verrassende maniere nader aan die Here.
God voorsien altyd.
Dikwels eers op 99.
Dikwels anders, of met iets anders as waarop ons gehoop het.
Maar altyd met meer as genoeg, en iets besonders.
God gee nie altyd vir ons wat ons wil hê, en wanneer ons dit wil hê nie.
Hy gee wat ons nodig het.
En verrassend méér!
Die Boodskap sê dit treffend in Numeri 6:24:
“Die Here sal julle seën en julle oppas.
Die Here sal met deernis na julle kyk,
en baie goed vir julle wees.”
Ernest