Afgodery is ‘n kerntema in die Bybel.
Dit is vandag nog een van die mens se grootste probleme.
Dikwels word gesê dat jyself jou grootste afgod kan wees.
Selfgerigtheid en selfsug beklemtoon dit.
Jy word die middelpunt van jou bestaan,
en jy dink die wêreld draai om jou.
Jy laat jou geld.
‘n Afgod is enigiets of iemand wat ‘n lewe van vreugde
en sekuriteit buite God beloof. Daarom moet jy hieroor vra:
Wat in my lewe laat my voel solank ek dít het, sal ek gelukkig wees?
Afgode is dikwels goeie dinge, en dit is juis wat dit so gevaarlik maak.
Dit kan byvoorbeeld ‘n begeerte wees om vir jou gesin te voorsien.
Die probleem is nie jou gesin of die geld nie,
maar die feit dat dit opsigself nou die bron van jou vervulling word.
Wanneer ‘n afgod bedreig word,
ontlok dit gewoonlik ‘n hewige emosionele reaksie.
Vra jouself af: waarsonder sal ek nie wil leef, of kan oorleef nie?
Die ironie is: Hoe meer jy iets of iemand verafgod,
hoe minder kan jy dit geniet.
Jy word ‘n slaaf van die vrees om dit te verloor.
‘n Afgod eis om ten alle koste beskerm te word.
Waaroor in jou lewe voel jy obsessief waaksaam?
‘n Afgod eis offers om dit gelukkig te hou.
As werk jou afgod is, sal jy jou integriteit inboet vir sukses.
As aanvaarding jou afgod is, sal jy jouself,
of jou eerlikheid inboet om gewild te wees.
Wat wil jou gereeld die morele kortpad laat kies?
Afgode is per definisie wreed. Alle afgode.
As jy ‘n afgod faal, laat hy jou betaal.
Daarom het God se verlossingsplan alle afgode kom troef!
Jesus eis nie ‘n offer nie, maar kom offer Homself!
“Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees”.
Joh.8:36.
In Jesus vind ons die enigste God wat ons vervul,
en wat, wanneer ons Hom faal, ons vergewe!
Dien die enigste God en Here!
Ernest