Wanneer jy lees “saam met Jesus aan tafel”,
dink jy dadelik dit moet na nagmaal verwys.
In die feesseisoen van Desember, word baie saam geëet en gekuier.

In die Nuwe Afrikaanse Vertaling lees ons in Matteus 9:10:
“Baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet.”

Jesus het graag rondom ‘n tafel of ete gekuier.
Met sy dissipels, met vriende soos Marta, Maria en Lasarus,
met Fariseërs soos Simon, en ook met tollenaars soos Levi en Saggeus.
By ‘n tafel of ete, het Hy nie net geëet nie, maar ook gesels, gesing, geleer,
voete gewas, vergewe, en mense teruggelei na God toe.
By ‘n tafel is Hy gesalf deur ‘n sondige vrou, en by ‘n tafel het Hy,
nadat sy verraaier hulle verlaat het, die brood en die wyn geneem,
en wéér gebreek, wéér geskink – dit is Mý liggaam, dit is Mý bloed…
By ‘n tafel van sy dissipels, het Hy verskyn,
en hulle die merke aan sy hande en voete gewys.
Daarna, toe hy dinge met Petrus wou regmaak,
het Hy ontbyt gemaak op die strand en hulle genooi.
Hoeveel het Jesus nie aan tafel gedoen nie!

Vandag nog doen Hy soveel saam met ons,
en tussen ons, as ons aan tafel is.
Sit weer aan vir die ritueel aan tafel,
in plaas van eet voor die TV.
Dinge gebeur saam met Jesus aan tafel.
Daar waar ons op mekaar en op Hom gerig is.
Moenie dat hande-vat, en saam seën-vra, wegval nie.
Moenie dit verruil vir kitskos op ‘n drafstap voor TV nie.
By die tafel gaan dit, soos wat Jesus vir ons gewys het,
oor meer as eet – dit is ‘n sakrament!
Die tafelgebed bring ons bewustelik in God se teenwoordigheid.
Saam bely ons ons afhanklikheid, en God se sorg en omgee.
Dit is ‘n seën van die Here, om genoeg en lekker te eet.
Aan tafel bou ons verhoudings, met Hom en met mekaar.

Gaan sit aan, steek kerse aan, bid om die seën van die Here,
dra die kos in, skink die wyn, geniet, lag uitbundig,
vier die lewe, gesels diep dinge.
Geniet die tafel, en gebruik die tafel, soos Jesus!

Ernest