God het aan ons mense gegee,
sodat ons in hierdie ongenaakbare wêreld
‘n veilige tuiskoms vir mekaar kan wees.
Ons weet in elke verhouding is daar uitdagings.
Dit kan dikwels baie spanningsvol ook wees.

Die bekende skrywer, Henri Nouwen,
sê hieroor dat ons harte gedurig beweeg tussen
die pole van vyandigheid en gasvryheid.
Daar is altyd ‘n stryd tussen ons selfbeskermende ego,
wat ander mense maklik seermaak en wegdryf,
en ons liefde, wat goedheid en genade wil uitdeel.
Nouwen sê hierdie paradoks is juis goed.
Dit herinner ons dat ons brose swak mense is,
wat dikwels worstel met verhoudings.
Ons feilbare menslike aard is diep gewortel,
maar ons kan onbeperk saam met die Gees groei!
Ons is vir mekaar gegee, sodat ons gedurig bymekaar kan leer
hoe God se liefde lyk, wat Hy deur ons vir mekaar wil gee.

Daarom sê Lukas 10:37 so treffend in Die Boodskap:
“Word ‘n medemens vir elkeen met wie jy elke dag te doen het,
maak nie saak wié of wát hulle is nie.”
Soos die Samaritaan in Jesus se gelykenis,
moet ons tot stilstand kom, en afbuk na gewondes,
hulle innig jammer kry, hulle wonde verbind,
en hulle na ‘n herberg neem, en geld by die eienaar los,
om die gewonde verder te versorg.

Ons leef elke dag tussen gewonde mense.
Ons is self ook gewond, en dra letsels van seer.
Ons is almal honger vir liefde, en het mekaar se liefde nodig.
Daarom gee die Here ons vir mekaar!

Ernest