“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het..” Joh.3:16.

In winkelsentrums, en in ons huise, sien ons in hierdie Kerstyd kriptonele.
Die figure van Josef en Maria, die krip, en die Kind.
Herders, wyse manne, skape, en die donkie.
Almal en alles in die toneel wat uitgepak word,
fokus af op die krip, en die Kind.
In die krip lê die bewys van God se liefde!
Ons moet onthou: God is liefde!
In 1 Joh. 4:8 kry ons die eenvoudigste “definisie” van God,
wat die Woord ons gee.
In hierdie definisie is daar natuurlik ook nog iets,
iets wat ons moet raaklees.
Dit is die objek van God se liefde.
God wat liefde is, het iets/iemand lief.

Liefde het altyd ‘n objek. Dit wil iets liefhê.
As daar liefde is, is daar ‘n geliefde.
Volgens Joh. 3:16 is óns hierdie geliefde.
Waar die definisie van God “liefde” is,
is die definisie van die mens “geliefde”.
Soos liefde God se kenmerk is,
is gelief-wees ons kenmerk.
Dit is God se hele skeppingsdoel!
Die hele Bybel, God se verhouding met die mens,
is die uitdrukking daarvan.
Die hoogtepunt daarvan vind ons in die krip, in die Kind!
Kyk selfs verby die Jesusfiguur van vlees en bloed,
en sien God se liefde vir jou raak.

Die krip sê: “God is liefde”.
Dit sê ook: “Ek is God se geliefde”.
Dankbaar sê ons: “Dankie Here!”

Ernest