Kersfees is op hande.
Twee woorde wat altyd met Kersfees vereenselwig word,
is vrede en welbehae…
Van albei hiervan is daar in die wêreld min te sien.
Ons gaan deur die ergste droogte in baie jare…
Die ekonomie is erg onder druk.
Werkloosheid en armoede.
Studente onrus en chaos by universiteite.
Terrorisme, sinlose moorde,
“heilige oorloë” teen Christene én mede-Islamiete.
Die lys hou net aan en aan.
Van vrede en welbehae weinig sprake.

Het die Christelike Kersfees nog ‘n boodskap?
Hoop, vrede, en welbehae?
Paulus het die antwoord in Romeine 8:32:
God het sy eie Seun nie gespaar nie,
maar Hom oorgelewer om ons almal te red.
Sal Hy ons dan nie al die ander dinge,
saam met Hom, uit genade skenk nie?!
As God Hom so oor ons as sondige en nietige mense ontferm,
en as Kersfees weer die boodskap kan bring en bevestig
dat Hy die wêreld so liefgehad het, soos Romeine 8:32 sê,
dan bevestig elke Kersfees dié waarheid:
Daar is niks wat God nie kan gee of doen nie!

Al die ander dinge wat ons vra en nodig het,
is nietighede in vergelyking met die gawe van sy eie Seun!
So word Jesus die sleutelwoord ,
wanneer ons bid vir vrede en welbehae in ‘n tyd soos hierdie.
Mense wat God se groot geskenk gelowig en dankbaar aanvaar,
word volgelinge en beelddraers van Jesus!

Wie volgelinge en beelddraers van Jesus word,
is ook sout en lig in hierdie wêreld – Mat. 5:13-14.
Sout, lig en suurdeeg wat ‘n verskil maak.
Onthou, God wat sy Seun vir ons gegee het,
daar is niks wat Hy ons nie saam met Hom kan gee nie!

Ernest