Vandag word Kersfees geesdriftig wêreldwyd gevier.
‘n Baie groot persentasie van mense wat dit vier,
weet nie eens Wie Hy is, of waarvoor Hy gekom het nie!
In hierdie harde wêreld gryp mense eenvoudig na enige iets,
iets wat verdowend en verligtend kan wees.
Ook óns, wat weet Wie Hy is, lees in Jesaja 9 dat ons
“behoort tot ‘n volk wat in donkerte leef.”
Ons leef in ‘n wêreld wat uitmekaar val.
Oorloë, opstande, dood, verwoesting, hongersnood, epidemies….
‘n Wêreld waarin die lewe van ‘n mens,
wat na die beeld van God geskape is,
geen waarde meer het nie.
“Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee…”
Vir óns? ‘n Wêreld soos óns sin?
“Hy sal heers, en Hy sal genoem word Wonderbare Raadsman…”
Wêreldleiers met hul probleme soek skynbaar nie meer by Hom raad nie…
“Magtige God, Ewige Vader, Vredevors…”
Tog is daar soveel onheil op aarde.
Mense sê God het doof geword vir sy kinders se nood…
Mense sterf ter wille van Sy Naam…!
En dan breek die woorde van Lukas 2:11 ons opstandige harte:
“Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore,
Christus die Here.”
Ons sien die Kers-Kind! God wat na die wêreld-in-chaos kom!
En dán, deur die Heilige Gees, sién ons Hom,
deur die oë van die Johannes-Openbaring!
Dáár tussen die goue kandelare beweeg Hy.
Iemand soos die Seun van die mens.
Hy dra ‘n lang kleed, en om sy bors is ‘n goue band.
Sy hare is wit soos wol, soos sneeu.
Sy oë vlam soos vuur en sy voete is soos geelkoper.
En toe Hy praat, is sy stem soos die gedruis van massas waters!
En Hy sê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek,
die Eerste en die Laaste, die Lewende...” – Openbaring 1:17-18.
Dit bring ons tot bedaring.
Dit laat jou terugblaai na die profeet Jesaja.
Na die belofte aan die volk wat in donkerte lewe.
“Sy heerskappy sal uitbrei,
en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring.
Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.”
So word dit rustig in ons bang harte..
Dit is Kersfees.
Christusfees!
Ernest