God se kinders kan vir Hom liewer en liewer word.
Maar God se liefde vir ons is volmaak.
Die Here het jou “tot die uiterste toe” lief, sê Joh.13:1.
Onvoorwaardelik, oorvloedig.
Ons kan niks doen om meer van sy liefde “te wen” nie.
Dit is moeilik om dit te snap,
want in die wêreld is ons liefde nie volmaak nie,
en moet dit steeds groei en groei.
Verder moet ons nog vir alles in die wêreld betaal, of dit verdien.
Jesus som dit in Joh 14:15 op deur te sê:
“As julle My liefhet, wys dit deur te doen wat Ek vra.”
Hy sê nie: “As jy doen wat Ek vra, sal Ek jou liefhê” nie.
God en sy liefde is nie te koop of te verdien nie.
Ons gehoorsaamheid verander ook nie die Here nie.
Gehoorsaamheid is eenvoudig tot ons voordeel.
Wanneer ons in gehoorsaamheid leef,
weet God dat ons die volwassenheid het om
sy seëninge in ons lewe te kan hanteer.
Ons kan God nie manipuleer nie.
Sy begeerte is eenvoudig dat ons Hom moet gehoorsaam,
omdat ons Hom vertrou!
God se kinders word al liewer vir Hom,
hoe meer en meer hulle Hom gehoorsaam.
Ons word ook liewer vir God,
hoe meer en meer ons sy Woord bestudeer.
Moenie God “net liefhê” nie.
Verlustig jou in Hom!
Lééf vir Hom!
Paulus skryf in 2 Kor. 5:15:
“Ons behoort nou aan Hom,
en daarom mag ons nie langer vir onsself leef nie.”
Leef met vasberadenheid en passie vir die Here.
Ons moet weier om langer,
soos die Israeliete, in die woestyn voort te ploeter.
Daarom sê Hebreërs 4:11:
“Ons moet nie die voorbeeld van die ou Israeliete volg nie…”
Begin eenvoudig gehoorsaam aan God se Woord lewe.
God gee ons al die genade en krag om dit te doen.
Gehoorsaamheid aan die Here is nie “ek moet” nie,
maar “ek wil”, omdat ek die Here so innig liefhet!
Groei en groei in jou liefde vir die Here met die wete:
Hy het my volmaak lief!
Ernest