“Die eerste ding wat ek vra, is dat julle vir almal moet bid.
Vra dat God almal moet help met wat hulle nodig het,
en sê vir God dankie daarvoor.
God wil hê alle mense moet na Hom toe kom en by Hom leer wat waar is.
Hy het die prys betaal wat nodig was,
sodat ons saak met God weer reg kon wees;
ja, Hy het Homself daarvoor gegee.
Op die regte tyd het Hy gewys dat God mense graag by Hom wil hê.”
1 Tim. 2:1,4,6.
Kyk hoe staan dit uit in hierdie gedeelte:
Die Here Jesus het vir álmal na die wêreld gekom!
Bid vir álmal!
Vra dat God álmal moet help.
God wil hê dat álle mense na Hom toe kom.
Hy het die prys vir álmal betaal.
God wil álle mense graag by Hom hê.
In hierdie tyd van welwillendheid,
en die oorvloedige seëninge wat ons elke dag van ons lewe beleef,
dink mens onwillekeurig aan die gebeure rondom William Booth,
die stigter van die Heilsleer.
‘n Honger klomp mense het saamgedrom,
op ‘n plek waar kos aan hulle uitgedeel sou word deur verskillende kerke.
Daar is vooraf ooreengekom dat elke kerk vir sy eie lidmate kos sou uitdeel.
Die Anglikaanse priester het die Anglikane eenkant toe geroep,
en so ook die Presbiteriaanse leraar, en die ander kleiner denominasies.
Toe almal klaar is, het William Booth opgestaan en gesê:
“Almal wat aan niemand behoort nie, volg my.”
God wil die wêreld wen deur onvoorwaardelike liefde.
Voorwaardelike liefde is nie liefde nie.
Ons kan nie “skenk” of “gee” uit ons oorvloed,
en dan bepaal wie moet kry en wie nie.
God sluit niemand uit nie.
Hy verwag van ons om ook só lief te hê.
Ernest