Dit is nie verkeerd om groot dinge vir die Here te wil doen nie.
Die probleem is dat ons die groot dinge in menslike terme meet,
en nie weet watter groot dinge God met ons “klein dinge” vir Hom doen nie.
Wanneer doen jy nou iets “groot” vir die Here, en wanneer iets “klein”?
Ons kan tog nie enige resultate van wat ons doen, aan onsself toeskryf nie.
Dan steel ons by God sy eer! Dan besef ons nie álles is die werk van die Gees nie.
Dan staan ons juis in die pad van God se werk.
Dit is opvallend in die Bybel, dat die profete en apostels van die Here
nooit beplan het om “groot” dinge vir die Here te doen nie.
Hulle enigste doel was om aan God gehoorsaam te wees.
Hulle wou slegs hul roeping uitleef om sy wil bekend te maak en dit te leef.
Die resultate het hulle aan die Heilige Gees oorgelaat.
Soms was daar “groot” suksesse, soos na Petrus se preek op Pinksterdag.
Ander kere was daar skynbaar “geen” sukses,
soos wanneer Jeremia onder die konings deurloop oor sy profetiese woorde.
Elia sê in 1 Konings 19:14 vir die Here:
“Ek het my met hart en siel gewy aan U saak, Here, Almagtige God…..”
Nogtans breek die israeliete hul verbond met die Here,
en maak hul die Here se profete dood.
Kinders van die Here is in hul gehoorsaamheid, onder leiding van die Gees,
gestroop van die behoefte aan erkenning.
God se wil, en hulle gehoorsaamheid daaraan, is al wat vir hulle tel.
Dan gebruik die Here sy kinders op uitsonderlike maniere,
selfs sonder dat hulle dit self raaksien, of die uitkoms daarvan sien.
Moet nooit dink dit wat jy vir die Here doen is klein, of groot nie.
Dit wat die Gees deur jou gehoorsaamheid doen, is altyd groot!
Ernest