Geloof leef afhanklik voor Christus en in Christus.
Om gemeente van die Here te wees,
lê nie volledig opgesluit in ons flink beplanning en strategiese skuiwe nie.
Natuurlik kan ons nie met gevoude hande rondsit,
en hoop dinge sal gebeur nie.
Om ons geloof uit te lewe, gaan egter oor ‘n diep afhanklike lewe voor die Here.
Fil. 3:12:
“Ek sê nie dat ek dit alles al het, of die doel al bereik het nie,
maar ek span my in om alles myne te maak,
omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.”
Dit beteken nie dat ons maar net “meer geestelik” moet raak nie,
en dat alles dan sal gebeur nie.
Dit gaan eerder daaroor om volledig aan Christus uitverkoop te lewe.
Wanneer ons wegdraai van onsself af, kom daar juis ‘n groot vrede oor ons.
En saam met dit ook ‘n groot koersvastheid.
Christene wat ‘n diep liefde vir die Here in hulle harte koester,
laat vaar hulle behoefte om alles en almal te verander,
om soos hulle te wees en te dink.
Hulle ontdek dat mense wat ander heeltyd in pas met hulself wil bring,
eintlik diep onseker is van hul eie oortuigings.
Christus bring vryheid van hierdie godsdienstige drang,
om alles en almal te wil beheer om soos onsself te wees.
Ons moet doelbewus kies om net lief te wees vir die Here.
Wie ons voor die Here is, word dan die regte sleutel,
tot wat ons vir Hom doen.
Ons moet wegskuif van wat ons alles moet “doen” vir die Here,
na die realiteit dat ons net voor Hom, deur Hom en in Hom moet leef.
Dan verander ons die wêreld ingrypend!
Alles wat ons dan leef en doen,
word sigbare verlengstukke van ons liefde vir die Here.
Ernest