God maak nie net stukkende mense heel nie,
maar maak hulle ook deel van die geloofsgemeenskap.
Dit is waar medegelowiges mekaar liefhet,
en dien, en saam groei in die Here.
Dit is waar daar ‘n bemoedigingsnetwerk is,
en waar mense sin in die lewe ervaar as hul dikwels,
onder baie moeilike omstandighede, worstel met die lewe.

Ernie Gunther was al diep in die tagtigs in ouderdom,
toe hy steeds in Florida in die VSA ‘n lewende illustrasie hiervan was.
Om sinvol binne die geloofsgemeenskap te lewe en te dien.
Hy was deel van ‘n diensspan wat gereeld die jongmense met kos voorsien het.
Toe sy vrou oorlede is, het hy heeltemal alleen agtergebly wat familie betref.
Lorraine Frey het haar oor hom ontferm,
en hom gemotiveer om deel van die diensspan te bly.
Sy taak was om elke keer al die skottelgoed sorgvuldig in die skottelgoedwasser te pak.
Hy het dit graag en met oorgawe gedoen.
Een oggend het hy vir Lorraine vertel dat hy die vorige nag gewens het hy gaan nou dood.
Hy kon byna niks meer hoor nie, en die eensaamheid het hom ingehaal,
omdat hy nie meer sinvol gesprek kon voer nie.

Toe onthou Ernie sélf skielik sy belangrike taak,
om die skottelgoed vir die jeugbyeenkomste te pak.
Wie sal die skottelgoedwasser beman as hy nou moes doodgaan?
Wie sal soveel vir die jongmense omgee, en met hulle grappies maak?
Wie sal vir hulle raad gee as hulle iets vra, selfs al hoor hy swak?
Op die plek het Ernie die Here om vergifnis gevra vir sy kortsigtigheid.
Hy het weereens gekies vir die lewe.
Sinvolle lewe van diens, in en deur die geloofsgemeenskap,
aan alle jongmense, ook van die straat af.
Hy het weer gekies om met die Here se liefde ander te dien.
Om dikwels net die stil getroue getuie vir die Here te wees.
Die onmisbare skakel in die gemeente se kombuisspan…!

1 Petrus 4:10:
“As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen,
namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien.”
Jy het só baie gawes van God ontvang!

Leef en dien sinvol daarmee, in én deur die geloofsgemeenskap!

Ernest