God stel baie meer belang in jou verhoudingslewe,
as in jou beroepslewe en beroepsuksesse.
Jou verhoudings met alle mense en ‘n toegewyde lewe aan die Here,
is vir Hom baie belangriker as jou beroep of studierigting.
Vir baie mense is dit krisisoomblikke,
as hulle moet besluit watter beroep hulle moet volg.
Of watter werk hulle moet kies uit die verskillende moontlikhede.
God is baie meer besorg oor hoé ons elke dag by ons werk optree,
as dat ons presies die regte besluit geneem het watter werk om te doen.
Beteken dit ons moet nie bid om leiding wat om te studeer,
of waar om te werk nie?
Nee, natuurlik moet ons ook hiervoor bid, soos vir alles in ons lewe.
Ons moet dit egter binne die groter perspektief van ons roeping op aarde sien.
God stel meer belang in ons liefde, en die dien van mense,
én ons eie karaktervorming, as in ons suksesvolle beroepslewe.
Die Here stel meer belang in hóé ons in en deur ons werk,
‘n lewende seën vir ander mense is,
as dat ons ons ambisieuse lewensdoelwitte selfsugtig nastreef.
In Kol. 3:22 sê Paulus selfs vir sláwe:
“Moenie net werk om deur hulle raakgesien te word,
en so in mense se guns te kom nie,
maar werk met ‘n opregte hart uit eerbied vir die Here.”
Natuurlik is die Here nie gekant teen ambisie nie.
Hy het tog elkeen van ons geseën met gawes en talente.
Hy vra egter dat ons ons ambisie moet rig op sy eer en sy koninkryk.
Dan gaan dit nie in die eerste plek oor die hoogste salaris,
of posisie, of prestasie, of erkenning, of eie eer nie.
Dit vólg op ‘n toegewyde lewe aan die Here.
Dit is ambisie, met God-se-koninkryk visie.
Jou oë gevestig op die dinge wat daarbó is!
Ernest