Christendom is nie noodwendig dieselfde as Christenskap nie.
Christenskap het te make met mense wat in ‘n lewende verhouding
met die Here lewe.
Christendom gebeur wanneer instellings, tradisie, en gebruike van die kerk,
in stand gehou word as die dominante sisteem van beheer in ‘n bepaalde samelewing.
Christendom wil van kerklikes die bevoorregtes maak,
en hulle gebruike en norme wetlik verskans,
en dit bevorder deur die openbare instellings in die samelewing.

Die probleem is dat Christene, wat die sout van die aarde is,
verslaan, laf word, en dit is niks meer werd nie.
“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het,
hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie.” - Matteus 5:13.
Ons leef nie meer ons getuienis uit nie,
omdat dit verskans is in instellings en tradisies.
Ons kla byvoorbeeld oor hoe die Sondag gevier word,
maar leef dit self soos “die wêreld.” Wette beskerm dit nie meer nie.
Ons kla oor wat op TV vertoon word, maar sit dit self en kyk.
Ons eie getuienis het verslaan…laf geword.

Wanneer ons só wil “kerkwees”,
verskuif die kerk gou na die rand van die samelewing.
En dan word van die kerk as “irrelevant” gepraat.

Is die skuif na ‘n “post-Christelike” samelewing sleg vir die kerk?
Ja!...as jy ‘n aanhanger van die Christendom is.
Dan sit jy in sak en as en roep: “Waarheen is alles op pad?”
Nee…as jy ‘n radikale navolger van Jesus Christus is.
Dan is dit net die regte ding,
om die ware kerk van die Christendom te skei.
Om te onderskei wie vir die Here lééf, en wie nie.
Om die balans te herstel en te laat uitkristaliseer,
tussen Christenskap en Christendom.

Die Here het nie die wêreld kom “kolonialiseer” nie.
Met kerklikes wat hul geloof wetlik verskans,
maar dit nie met oortuiging uitleef nie.
Die Here het gekom om alles nuut te maak.
En Hy stuur ons om sy hande en voete in die wêreld te gaan wees.
Dienend!
Gestuurdes wat dien!

Lukas 10:3:
“Gaan nou! Maar onthou, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.”

Ernest