Ons manier van getuig vir die Here,
kan die kloof tussen ons en die wêreld groter maak,
eerder as om die “skape in die kraal in te bring.”
Daar is tans baie eietydse studies wat dit beklemtoon.
David Kinnaman en Gabe Lyons het ‘n studie gedoen, getiteld “UnChristian”.
Dit gaan oor die groter wordende kloof tussen Christene en nie-Christene.
Dit wys daarop dat dit wat ons dikwels as getuienisse beskou,
eerder groter afstand skep tussen ons en mense wat anders glo.
Ons kan nie onverpoosd voortgaan met aggressiewe evangelisasie
en uitreike met ‘n tref en trap aard nie.

Ons moet verstaan wat Paulus in 1 Kor. 12:12-13 bedoel as hy sê
dat hy vir die Jode soos ‘n Jood geword het,
en vir die Grieke soos ‘n Griek geword het,
….om sommiges vir Christus te wen!
Jy is nie daarmee ‘n verkleurmannetjie nie.
Jy is ook nie daarmee iemand wat bang is om uit te staan vir Christus nie.
Wat Paulus wel bedoel, is dat hy nie geloof in mense se kele afforseer nie,
want dit werk nie so nie. Die Heilige Gees werk ook nie so nie.
Ons moet sensitief wees vir mense se kultuur, oortuigings, geloof, en menswees.
Mense het so grootgeword, en is nie per definisie “teen” die Christendom nie.
Dikwels respekteer hulle “ons” meer, as wat ons “hulle” respekteer.
Paulus leer ons om nie neer te kyk op mense wat anders glo, leef of dink nie.
Paulus sien homself as sulke mense se dienaar!

Die kerkleier, Erwin McManus, sê ons moet leer om soos nie-Christene te dink,
maar sonder om soos hulle te leef! Dit is baie belangrik!
Dan kan ons die wêreld beter verstaan, en ons getuienis beter laat grondvat.
Ons doen dit net mooi andersom:
Ons leef soos die wêreld, maar dink gelowig.
In die boek, The Christian Atheist, deur Craig Groeschel,
sê hy hieroor: Ons leefstyl is die belangrikste struikelblok aan die een kant,
maar dit kan ook die belangrikste evangelisasiemiddel wees, aan die ander kant.

Ons lewens is lewensgrootte advertensieborde!
Dikwels is ons lewens nie-Christene se enigste teks wat hulle lees.
Hulle lees nie die Bybel nie, en weet nie, of verstaan min, van wat ons glo.
Opofferende lewens, dienende liefde,
en ‘n sagte gees onder leiding van die Heilige Gees,
getuig boekdele meer as dominerende en veroordelende getuienis.

Getuig onder leiding van die Heilige Gees.

Ernest