Psalm 103:8 en 12:
“Barmhartig en genadig is die Here.
So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder hy ons oortredinge van ons af.”

Psalm 103 loop oor van God se genade!
Die Psalm kan nie uitgepraat raak daaroor nie.
Die Psalm sê God is suiwer barmhartigheid en genade.
Hy word nie maklik kwaad nie.
Hy is skatryk in liefde.
Hy dra nie griewe oor ons nie.
Hy behandel ons nie vir wat ons verdien nie.
Hy betaal ons nie terug vir ons verkeerde dade nie.
Sy liefde vir ons strek in die oneindigheid in.
Hy verwyder ons oortredinge soos die ooste en weste van mekaar.
Hy voel meer vir ons as wat enige ouer kan voel.
Hy ken ons deur en deur en hou in gedagte waarvan ons gemaak is.

Geen wonder dat die kerkvader Athanasius gesê het:
“Die oorgrote meerderheid boeke van die Bybel praat mét ons,
terwyl die Psalms vír ons praat.”

Annie Dillard het oor genade gesê:
“Man catches grace as he fills his cup under a waterfall.”
God se genade is oral!
Skep en giet uit oor almal!
‘n Gelowige is nie iemand wat goed is nie,
maar is iemand wat die goedheid en genade van God oral ervaar en uitdeel.

God se kinders is hulle wat op niks anders as God se genade staatmaak nie.
Jou slegte dae is nooit so sleg dat jy buite die bereik van God se genade is nie.
En jou beste dae is nooit so goed dat jy sonder God se genade kan klaarkom nie.

Gaan deel uit, die genade van God!

Ernest