In Titus 2:1-5 sien ons ‘n klompie waardes wat ons moderne
samelewing as oud en uitgedien afmaak:

Jý moet die soort leefstyl bevorder wat die gesonde leer weerspieël.
Beywer jou om selfbeheersing te beoefen,
om respek te verdien,
en om met wysheid te lewe.
Jy moet ‘n sterk geloof hê,
en vervul wees met liefde en geduld.
Leef soos dit iemand betaam wat die Here dien.
Moenie rondloop en skinder nie.
Moenie aan drank verslaaf wees nie.
Leer goeie dinge vir ander.
Jy moet jou huweliksmaat en kinders liefhê.
Leef verstandig en rein.
Versorg jou tuiste,
en wees onderdanig aan mekaar(Ef.5:21).
Moenie die boodskap van God belaster nie.

Lees dit wéér.
Dink jy dit is uitgedien?
Mense word in die moderne samelewing aangemoedig
om hul eie hart te volg en konvensie te vermy.
Dit beteken egter dat wanneer ons soos Titus 2:1-5 begin lewe,
die wêreld regop sit en aandag gee.
Hulle hou nie daarvan wanneer ons oor hierdie dinge praat nie,
soos byvoorbeeld selfbeheersing en onderdanigheid nie,
maar hulle vind dit aantreklik wanneer ons dit uitleef!

Om in hierdie gehoorsaamheid aan God te leef is nie teatraal nie.
Dit is nie toneelspel nie, of aanstellerig nie, of met vertoon nie.
Alledaagse gehoorsaamheid aan die Here,
in ons huwelike, gesinne, beroepe…dáár is waar ons getuienis tel!
Dit is die plek waar ons die heerlikheid en eer aan God bring,
en sy genade aan die wêreld vertoon.

Heldhaftige Christenskap gebeur nie noodwendig op die sendingveld nie,
maar in die “klein areas” van jou lewe.
Dit is waar jou sterkste getuieniskrag leef!
Jou Christenskap word die beste gemeet
aan daardie verhoudings wat die meeste mense nié sien nie.
As God jou geloof geoordeel het,
uitsluitlik op jou verhoudings in jou huis….
hoe sou jy gevaar het?

Ernest