Kinders het op die Here se skoot gesit.
Hy het Petrus se skoonma se hand geneem,
en vir haar gesê om op te staan.
Voor die graf van sy vriend Lasarus, het Hy gehuil.
Hy het omgedraai en stilgestaan by ‘n moedelose vrou,
en haar gesond gemaak.
Hy het saam met sondaars aangesit vir ete.
Hy het gesorg dat sy ma versorg is,
selfs toe hy aan die kruis hang.
En ná sy opstanding:
Toe troos Hy die huilende Maria by die graf.
Praat sy dissipels moed in, en verseker hulle,
dat Hy tot in ewigheid by ons sal wees.
Hoe alles insluitend is God se liefde nie!
En hoe ánders sou die wêreld wees,
as ons meer daarvan kon uitleef.
Johannes 17:26:
“Ek het U Naam aan hulle bekend gemaak,
sodat die liefde waarmee U my liefgehad het,
in hulle mag leef.”
God se liefde vir ons is kleurryk en omvattend.
Sy liefde wat met innigheid na ons omsien.
Wat met groot ontferming oor ons waak.
Sy liefde wat só vol vergifnis is,
dat Hy ons berouvolle harte in vryheid laat jubel.
Sy genadeliefde wat vir ons plek in die hemel voorberei.
Sy deernisliefde wat sy goedheid en guns elke dag oor ons uitstort.
God se liefde sal in jou lewe nooit ophou nie!
Aan God se liefde is daar geen einde nie!
Ernest