Psalm 139 beskryf treffend hoe God alles van jou weet,
en dat jy Hom nie kan ontvlug nie.
Vers 1 vat dit, inleidend tot die Psalm, so saam:
“Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.”
Maar die Psalmskrywer is vol vreugde hieroor!
God is vir hom die alomteenwoordige Vader,
wat hom verwonderd laat oor alles.
God weet nie net alles van joú nie.
God weet alles van alles!
1 Sam. 2:3 sê: “Die Here weet alles.”
The Message vertaal dit: “For God knows what’s going on.”
God weet ook alles van die toekoms.
En daarin beplan Hy vir jou die beste,
nie noodwendig die lekkerste of die maklikste nie,
maar die beste!
Gelukkig weet mense nie alles van mekaar af nie.
Wat ‘n gemors sou ons nie daarvan gemaak het nie.
In die fliek “Minority Report” van Stephen Spielberg,
wys die fliek vir ons hoe ‘n gemors mense aanjaag,
waanneer hulle die toekoms ken.
In die fliek word verduidelik die toekoms het nog nie gebeur nie,
en dan sê die een karakter: “Because you know what is going to happen,
you still have a choice. You can change it.”
Nogtans maak die mense dan ‘n gemors van die toekoms.
Dit is so wonderlik ánders met God,
wat alles van ons en alles van die toekoms weet.
Hy wil hê dat jy die heel beste jý sal word,
soos wat Hy in sy skeppingsplan vir jou beplan het.
Al weet God alles van my, Hy behandel my steeds met genade.
Al weet God alles, behandel Hy ons nie soos marionette nie.
Hy wil hê dat mense self kies om Hom lief te hê.
Want dit is wat liefde is.
God het eerste gekies om ons lief te hê.
Kies om God lief te hê en vir Hom te leef.
24/7 in sy “weet-alles” teenwoordigheid!
Ernest