Die Evangelie van Jesus Christus is radikaal.
In wêreldse terme maak baie dinge net nie sin nie.
Maar vir God, wat liefde is, en ons, wat God se liefde moet uitleef,
is die Evangelie ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo.
Neem nou maar die woorde van Jesus in Matteus 5:39:
“Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie.
As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.”
Om passief te wees sou beteken jy doen niks nie, as die persoon jou slaan.
Maar die Evangelie sê jy doen aktief iets: Jy draai jou ander wang!
Kan ‘n mens regtig só optree?
Wél, Julio Diaz is ‘n maatskaplike werker in New York.
In 2008 wag ‘n jongman hom met ‘n mes in en beroof hom op straat.
Diaz gee hom nie net die beursie nie,
maar toe hy wegstap roep hy hom terug, en gee ook aan hom sy jas!
“Hoekom?”, wou die aanvaller weet. Antwoord Diaz:
“As jy jou vryheid op straat wil waag vir ‘n paar dollar, gaan jy dit in die koue nodig hê.”
Toe nooi hy ook sy aanvaller vir ete! Oorbluf het die aanvaller ingestem.
In die restaurant groet die kombuispersoneel, kelners, die eienaar, en besoekers vir Diaz.
“Hoe kry jy dit reg?”, vra die jongman.
“Dit is wat die Here my leer in sy Woord, en ek glo en leef dit”, antwoord Diaz.
Diaz het vir die ete betaal, uit sy eie beursie, en nog 20 dollar aan die jongman gegee.
In ruil vir sy mes!
‘n Mooi storie?
Nee, die werklikheid,
wat iemand in die Naam en krag van die Here uitleef!
Matteus 5:39 vat regtig grond in die wêreld,
daar waar volgelinge van Jesus dit radikaal uitleef!
Die Evangelie van Jesus Christus is nie net ‘n storie nie.
Wanneer gewone mense die Bybeltekste word wat daarin staan,
dan lees ander op straat dit, en dit verander hulle lewe!
En joune!
Jou geloof word ‘n magneet wat mense na God toe trek!
Ernest