“Gee aan hom wat iets van jou vra,
en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”
Matteus 5:42 is, net soos gister se teks, Matteus 5:39,
een van daardie “moeilikes” om uit te leef.
Moeilik?
Die antwoord in ons soeke na ‘n lewenskragtige geloof,
is te vind in mense wat die Jesus-leefstyl radikaal uitleef.
Ons spandeer hopeloos te veel tyd aan “normale” kerklike aktiwiteite.
Natuurlik is dit belangrik.
Maar solank ons net met godsdienstige roetines en programme besig bly,
jaar in en jaar uit, sal die wêreld nie in God se rigting verander nie.
Solank ons verder geloof net meet aan die suiwerheid van ons belydenis,
en nie ook meet aan die vraag of ons op voetsoolvlak dit uitleef met effek nie,
sal dinge maar net op dieselfde trant voortgaan.
Geloof gaan daaroor om tweede myle saam te stap, met goeies, slegtes,
hooploses, moeilikes, oud en jonk, rassiste, kapitaliste, armes,
godsdienstiges, ongelowiges, vlugtelinge….almal !
Wat verstaan ons nie van die eenvoudige woord “almal” nie?
Hoekom wil ons die woord met allerhande verduidelikings herdefinieer?
Ons is op reis saam met die Here na ál hierdie mense!...alle mense!
Hy sal vir álles sorg!
Geloof moet oorskakel in ‘n lewe van ontferming.
Anders is dit nie werd om geloof genoem te word nie.
Geloof sonder oop hande en ruim harte, mis die punt van geloof.
Dit is wat Matteus 5:42 beteken.
Dit is God se wil dat ons ‘n lewe van opoffering en weggee moet lewe.
Jesus is nie net ons voorbeeld nie - want dan kon jy kies of jy dit wil navolg.
Jesus is ons Here hierin!
Hy leef nou sy lewe in en deur ons.
Sy hart klop nou in ons.
“…en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.” Gal. 5:17
Ernest