Hoor jy ‘n sug van verligting?
God vra nie tiendes nie!
Nee, Hy vra baie meer!
Romeine 12:1:
“Gee julleself aan God as lewende en heilige offers….
Dit is die wesentlike van die godsdiens…”
Wanneer die woord “gee” in die kerk ter sprake is,
word daar selfs daarmee gespot.
Soos die NG kerk waar dit net gaan oor NGee en NGee…
Tiendes, en die woord “gee”, laat baie net hul beursies stywer vashou.
Weer ‘n preek, dink hulle : Jy gee te min…
en jou týd sal jou bydrae ook aansienlik opstoot…
Dit is die ou debat oor geld wat probeer vasstel of Ou Testamentiese tiendes
ook in die Nuwe Testament geldig is, en of dit uitgedien is.
Jesus maak nêrens tiendes verpligtend nie.
Inteendeel. Sy volgelinge gee oneindig meer as tiendes.
Hulle word nou vanself lewende “tiendes”!
Om steeds te dink aan tiendes is om wetties te dink.
Binne Jesus se siening van die Tora, God se Wet,
gebeur die Tora deur verhoudings.
Geld , of tiendes, kan geen lewende verhouding met God waarborg nie.
Geld is morsdood!
Om dooie geld aan God te gee,
en daarom te dink dat jy een van God se wette gehoorsaam,
is om die punt van jou verhouding met die Here heeltemal te mis.
Jesus wys in Matteus 23:23 die Fariseërs se gee van tiendes heeltemal af,
in besonderhede, tot by die gee van kruisement, anys en koljander!
“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!
Julle gee tiendes van kruisement,anys en koljander,
maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg,
laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid, en betroubaarheid.
Juis hierdie dinge moet ‘n mens doen en die ander nie nalaat nie.”
God stel nie in wettiese, afgeweegde, en getelde,
dooie geld of besittings belang nie.
Hy stel nie belang of jy ‘n bruto of ‘n netto tiende gee nie.
God vra lewende en heilige offers,
wat vir Hom aanneemlik is, sê Romeine 12:1.
Harte wat warm klop vir Hom en álle mense!
Dit is die regte soort gee en weggee, waarin God belangstel.
Dit, is binne God se wil.
Dit, maak Hom opgewonde oor jou!
Ernest