Daar word beweer ons het in ons leeftyd ongeveer 21 miljoen oomblikke,
oomblikke waarin ons dink en optree.
Dit klink baie, maar snel verby.
Die Prediker skryf oor tyd en die sinvolle inrigting daarvan.
Hy skryf byvoorbeeld in Prediker 3:2:
“Daar is ‘n tyd om gebore te word, ‘n tyd om te sterwe,
‘n tyd om te plant, ‘n tyd om plante uit te trek.”
Prediker 3 sê dat tyd drie kategorieë het:
Tyd en jou fisieke lewe (verse 1-3)
Tyd en jou emosionele lewe (verse 4-5)
Tyd en jou geestelike lewe (verse 6-8)
Die eerste, tyd en jou fisieke lewe, is net so belangrik soos die ander twee.
Om jou fisieke lewe te geniet, moet jy besef dat God jou uniek gemaak het.
Daarom moet jy leer om jouself te sien soos God jou sien: waardevol!
Elke dag is ‘n nuwe begin van God aan jou. Koop die dag uit!
Weet jy is nie alleen nie, want God is daar, en Hy gee ook ander mense daar vir jou.
Glo ook die lewe is ‘n geskenk van God wat jy moet geniet.
Jy het net een kans om hierdie lewe voluit te lewe.
Daarom moet jy ook in jou fisieke lewe tyd maak vir jouself.
Maak spesifiek “ek”-tyd. Daar ontmoet siel en liggaam.
Geniet God se natuur want dit is goed vir jou.
Geniet ook jouself.
Daar is ‘n Chinese spreekwoord wat sê:
Die beste tyd om ‘n boom te plant was twintig jaar terug.
Die tweede beste tyd is vandag! Maak die verskil!
As jy gister gemis het, is vandag die regte dag om dit nie weer te mis nie!
Ernest