In Markus 10:35-37 lees ons:
“Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, kom toe na Jesus toe en sê vir Hom:
“Here ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra”.
“Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”, het Hy hulle gevra.
Hulle het Hom geantwoord:
“Wanneer U as Koning heers, laat ons dan langs U sit,
die een aan U regterhand en die ander een aan U linkerhand.”
Ons is traag om geestelike lesse te leer.
Skaars het Jesus vir die dissipels in Markus 9 geleer wat ware grootheid is,
of twee van hulle kom ‘n dag of wat later na Hom toe met hierdie vraag!
“Julle weet nie wat julle vra nie”, was Jesus se antwoord.
Weér moes Jesus hulle leer, in verse 43-45,
dat ware grootheid in God se ryk is om te dien!
Om te dien!
In teenstelling met die wêreld,
gaan dit in God se koninkryk nie oor status of belang nie.
Hier dien ons mekaar en ander mense sonder bymotiewe.
So het Jesus sy Goddelike bestaanswyse in die hemel prysgegee,
om te kom dien!
Jesus se pad van selfverloëning is ook die pad waarop ons moet stap.
Dit is net moontlik as die Here se liefde in jou hart is.
Die Here se liefde maak jou blind vir vooroordele.
Jy doen eenvoudig uit liefde, sonder om daaroor te dink.
Dit gaan nie oor kerkhou en banke warm sit nie.
Dit gaan oor kerk wees in die wêreld, waar ons suurdeeg is, sout, en lig!
Christene is nie in wêreldse terme “treffers” nie.
Hulle is gewone mense wat God op sy Woord neem,
en verskil maak in álmal se lewe met wie hul te doen kry.
Ernest