Ons het allerhande oplossings vir die kerk gereed.
Ons snap egter nie aldag die eenvoud van die evangelie nie.
Ons beraam groot projekte om die wêreld te red.
Maar ons bure oorkant die straat glo nog nie in Christus nie,
en ons vat nie daar grond nie….
Ons het allerhande aksies en strukture,
maar mis dikwels die eenvoudige waarby ons moet uitkom….
soos om skottelgoed tot eer van die Here te was,
en weduwees en wese te help.

Die hoof van die Aramese weermag het melaats geword,
en is uiteindelik deur Elisa in die Naam van die lewende God genees.
Maar ons lees maklik verby die een onontbeerlike skakel in hierdie gebeure.
In 2 Konings 5:2-3 word vertel van ‘n klein dogtertjie uit Israel,
wat as slaaf in die huis van die generaal gewerk het,
nadat sy uit Israel as gevangene weggevoer is.
Dit is deur háár dat Naäman by Elisa uitgekom het!
Sy het vir die generaal se vrou gaan sê dat hy dadelik by Elisa moet uitkom.
Sy moes ‘n besondere indruk op die generaal en sy vrou gemaak het.
Sy moes haar werk seker met toewyding gedoen het,
en ‘n mooi gesindheid gehad het,
anders sou hulle tog nie na hierdie kind geluister het nie.

Die dogtertjie het nie ‘n lang of roerende getuienis gehad nie.
Sy het net die rigting na Elisa en na God aangewys.
Dit het uiteindelik die lot van baie mense verander!
God gebruik gewone mense en “klein” dade in sy diens.
Niemand is te klein en onbenullig nie.
God wil en kan groot dinge deur jou doen!
Wees net daar en gewillig wanneer Hy jou wil gebruik.
Of dit die skink van tee of die was van skottelgoed is.
Hy werk deur elkeen.
Verrassend en groot!
Wees net getrou daar waar jy is, in wat jy ookal doen.
Vir Hom!

Ernest