Op baie houers wat ons hanteer staan “Breekbaar” geskryf.
Dikwels staan daar ook nog “Hanteer versigtig” daarop geskryf.
Ons plaas sulke woorde op lewelose houers,
maar nooit op lewende mense nie.
Mense is so broos en breekbaar.
Misdaad, siekte, verlies, gebroke verhoudings….
al hierdie dinge maak mense seer en “breek” hulle.
Ons moet mekaar se fisiese en geestelike wonde help verbind.
Ons moet mekaar se laste dra.
Ons moet veilige skuilplekke wees vir mekaar.
Die Here se kerk moet op aarde ‘n genesende gemeenskap wees.
Deur ons opbouende woorde, gebede, geloof, leierskap,
onderrig, wysheid, onderskeidingsvermoë,
en vermanings moet ons met liefde en omgee belê in mense se lewens.
Dit is nie “take” wat ons uitvoer nie.
Dit is unieke mense met wie ons te doen het.
Mense geskep na die beeld van God.
Mense vir wie Jesus aan die kruis gesterf het.
Mense met ‘n geskiedenis.
En elkeen van ons, is een van hulle!
Matteus 7:12:
“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen,
moet julle ook aan hulle doen….”
Ernest