Baie mense ervaar die kerk as kerkgeboue,
godsdienstige byeenkomste, en geestelike personeel in diens.
Hulle dink kerklike betrokkenheid is gelyk aan die
ondersteuning van geestelike programme.
Dit is juis deur die beklemtoning van bogenoemde dat kerkgetalle krimp.
Die waarheid is egter dat Christene deel het aan bogenoemde persepsie.
Gelowiges “gaan kerk toe”, maar hulle neem nie die “kerk” na die wêreld toe nie.
Gelowiges self is nie betrokke genoeg by die nood van die wêreld nie.
Hulle sê maklik “die kerk moet…”,
maar raak nie self by dit betrokke wat “die kerk moet…” nie.

Ons moet weer dringend ontdek dat die kerk
altyd en oral verhoudingsmatig moet gebeur.
Die kerk is die lewende beweging van mense,
mense wat deur Christus se liefde oorweldig is.
Christus se liefde dring ons uit ons gemaksones.
Waaarnatoe? Na ander mense toe.
Ons harte en hande gaan, deur die Here, oop vir mekaar.

Die kerk gaan nie oor instandhouding en strukture nie.
Dit gaan oor bedieninge en verhoudings wat die
koninkryk van God in die wêreld laat grondvat.
Egtheid en deursigtigheid, omgee en diens, is ononderhandelbaar.
Ons roeping is om nuwe verhoudings van diens, en omgee, en liefde te vestig.

“Waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”
Matteus 18:20.

Ernest