Dit is die selfsugtige vraag wat mense dikwels vra,
in terme van kerkwees, gemeente wees.
Wat is in dit vir mý?
Dit is onlangs in ‘n Gallup-studie bevind dat die oorgrote meerderheid kerkmense
steeds in hierdie “wat’s in dit vir my”-sindroom vasgeval is,
wanneer aan hulle gevra word of hulle gelukkig is in hulle kerk!
Mense vra gedurig: “Wat bied die gemeente vir mý?”
Lidmate neem lank, indien wel, om die kopskuif te maak na
onselfsugtige diens en uitreik na ander.
Hulle dink die betaalde personeel van die kerk moet dit doen.
Dit gaan oor die beweging weg van “success”, na significance, na “service”!
Wanneer die wêreld na gelowiges kyk, kyk hulle nie hoe groot gemeentes is nie,
of hoe suksesvol hulle is in terme van programme en byeenkomste nie.
Hulle kyk hoe diensbaar ons is!
Hoeveel ons omgee vir hulle,
uitreik na hulle, en die liefde van die Here deel met hulle.
Goddank! Duisende Christene ontdek dit meer en meer.
Het jy dit al ontdek?
Dit gaan oor verhoudings, en veral nuwe verhoudings, wat gevestig moet word.
Wanneer Jesus 70 volgelinge in Lukas 10 uitstuur,
na die dorpe waar Hy gaan aandoen op pad na Jerusalem,
dan sê Hy vir hulle om by mense te gaan bly!
Hulle moet daardie mense dien,
en getuig dat God se koninkryk aangebreek het.
Hulle moet dus nuwe verhoudings bou met mense.
Hulle moet die mense nie net tref en trap met die evangelie,
en dan haastig padgee nie!
Ons moet tussen mense lééf,
sáám met hulle,
en daar wéés vir hulle!
Hoe waar is dit van jou,
in die gemeente en gemeenskap waar jy leef?
Ernest