Filippense 4:5 sê:
“Wees inskiklik teenoor alle mense.
Die Here is naby.”
Ja, jy lees reg.
Wees inskiklik teenoor álle mense.
Jy kan nie kies nie.
Natuurlik val jy nie maar net in by wat almal doen nie.
Jy stem ook nie maar net saam met wat almal sê nie.
Jy gee nie toe aan iets wat nie die Here se wil is nie.
Dit is voor die hand liggend.
Wat sê hierdie Woord dan wel?
Ons moet onselfsugtig en bedagsaam teenoor almal wees.
Moenie ten alle koste jou eie wil laat geld nie.
Steun ook ander mense se belange, en deel hulle visie.
Jesus het gesê ons moet mekaar dien.
Ons moet as’t ware, soos Hy, voete was.
Wanneer die Woord hier sê “die Here is naby”,
beteken dit ook dat Hy daar is waar jy saam met ander mense is.
Hy is altyd naby!
In ons teenwoordigheid waar ons leef.
Leef bewustelik met die wete:
Die Here is hier!
So word ek minder, en Hy en my medemens meer.
Alle mense is vir die Here kosbaar.
Wees inskiklik teenoor alle mense.
Ernest