Baie mense dink jy mag nie vrae vra in krisis en nood nie.
Jy moet maar eenvoudig aanvaar daar is ‘n doel met alles.
Jy mag veral nie vrae aan God vra, en met Hom swaarde kruis nie….
Hierdie soort uitsprake rym gladnie met die inhoud van die Bybel nie!
God se wil is nie so vas en onbuigbaar,
dat Hy glad nie daaraan kan of wil verander nie.

Die Bybel wemel van voorbeelde waar God sy plan verander het.
In reaksie op Hiskia se gebed, in Jesaja 38,
stel Hy sy sterfdatum uit met 15 jaar!
In Jona 4 het God ook sy klaar aangekondigde doodstraf
op Nineve opgehef na hul berou.
Dinge soos gebed en bekering word deur God gebruik,
en het groot uitwerking in terme van sy wil.

God laat toe dat mense ook met Hom verskil.
Hy laat selfs toe dat hulle met Hom daaroor kan praat.
In Matteus 15 lees ons van ‘n Kanaänitiese vrou wat met Jesus paaie kruis,
en die moed het om radikaal met Hom te verskil.
Sy was van heidense afkoms en besluit Jesus kan haar help met haar dogter.
Al het Matteus 10:6 aanvanklik gesê Jesus kom na die verlore skape van Israel…
Die dissipels is selfs ontsteld,
dat die heindense vrou in die openbaar met Jesus praat!
Maar selfs dit skrik haar nie af nie.
Jesus sê vir haar Hy is na die verlore skape van Israel gestuur…
Maar selfs dit bring haar nie van stryk nie!
Jesus spreek haar sterk aan,
en sê sy wil die brood uit Israel se monde vat!
Dan kom haar troefkaart:
“Here, gee maar net vir my die krummeltjies wat van die tafel afval”.
Net “iets” van sy genade na haar kant…

Daar en dan het Jesus haar geloof geprys en haar begeerte toegestaan.
Jesus “wysig” as’t ware sy sending, ter wille van die geloof van hierdie vrou!
Natuurlik het jesus dwarsdeur sy aardse optrede gewys,
die deur is oop vir alle mense wat glo.
Maar hier het Hy dit nou in die openbaar “amptelik aangekondig”.

Gebed, geloof, berou, bekering.…beweeg God se hart.
Bly praat met God!
Moet nooit opgee nie!...soos hierdie vrou.

Ernest