Baie mense aanvaar eenvoudig nie “nee” vir ‘n antwoord nie.
Hulle kan nogal uitputtend wees…
Maar tog is dit ook knaende mense wat dikwels hul doelwitte bereik.
Hulle weet wat hulle wil hê, en beweeg doelgerig daarheen.
Dit geld ook dikwels in mense se geloofslewe.
Christene maak veels te min hiervan.
Dalk omdat ons dink God is onbeweeglik en kwaai.
Ons dink dat Hy net na “regte” gebede luister wat “reg” gebid is.
So word ons verhouding met die Here ‘n godsdiens,
in plaas van ‘n persoonlike lewende verhouding.
Ware geloof is egter heel anders.
God bedoel dat ons in ‘n dinamiese avontuur saam met Hom leef!
Ons dien nie ‘n starre, onbeweeglike, onpersoonlike God nie.
Christenskap beweeg nie net in veilige bane nie.
Lees maar die lewensgeskiedenis van Paulus.
Ons kan inderdaad openlik en onderhandelend saam met God lééf!
God luister na enige iets waarmee ons in opregtheid na Hom toe kom.
Niks is vir Hom te groot of te klein nie.
God is nooit te besig vir ons nie.
God is ook nie onbeweeglik nie.
God is liefde en liefde is buitengewoon dinamies!
In Lukas 18 vertel Jesus ‘n gelykenis om dit te illustreer.
‘n Vrou is deur iemand te na gekom en neem haar saak na ‘n regter.
Hy steur hom nie aan die arme weduwee nie.
Maar dit ontmoedig haar nie.
Dag na dag stel sy haar saak.
Totdat die regter haar saak behartig.
Jesus sê dan: God sal soveel meer doen as sy kinders na Hom roep.
Hy sê verder in verse 7-8 dat gelowiges wat op aarde swaarkry,
moet aanhou om tot God te roep…soos die weduwee aanhou.
Dit beweeg God om in te gryp.
God sal luister wanneer gelowiges bereid is om dapper,
tot in die heilige teenwoordigheid van God te worstel,
en eerbiedig by Hom te bly smeek.
Sulke geloof verander jou verhouding met God tot ‘n avontuur,
omdat jy absoluut alles van Hom verwag!
Dít….is saam-lééf met God!
Ernest