In 2 Korintiërs 8:5 lees ons :
“Eers het hulle hulleself aan die Here gegee,
en toe aan ons.
Dit is soos God dit wil.”
Dit is die geheim van ‘n sinvolle lewe!
Daarom sê Romeine 12:1 die wesenlike
van die godsdiens is om jouself te gee.
“The secret of living is giving.”

Om te gee, laat jou soos God optree.
God se hart en hand is oop.
Hy verwag dieselfde van sy kinders.

‘n Wyse vrou het ‘n kosbare edelgesteente in ‘n stroom gekry.
‘n Honger man langs die pad het dit in haar dra-sak gesien,
toe sy dit oopgemaak het om vir hom kos te gee.
Hy het gevra of hy die edelgesteente kan kry,
sodat dit die res van sy lewe vir hom sou sorg, as hy dit verkoop.
Sy het dit uitgehaal en vir hom gegee!

‘n Paar dae later het die man teruggekom na die vrou.
Hy het die edelgesteente aan haar teruggegee en gesê:
“Ek sit nou al vir dae en dink.
Ek weet hoe waardevol hierdie steen is.
Maar jy het iets baie meer waardevol om vir my te gee.
Ek wil die edelgesteente vir jou teruggee,
dan gee jy eerder vir my van dit wat jy binne in jou het.
Van dit wat jou hierdie kosbare steen laat weggee het!”

Aan Karl Meininger, die beroemde sielkundige, is gevra:
“As ‘n senu-ineenstorting op pad is, wat sal u voorstel?”
Almal het verwag dat hy jou na ‘n sielkundige sal verwys…
Tot almal se verbasing het Meininger geantwoord:
“Vind iemand in nood, en doen iets om daardie persoon te help”.
Gee jouself weg…en dit wat jy het.

Gee eers jouself aan die Here, en dan aan ander.
Dit is soos God dit wil.

Ernest