Mense sê dikwels tong in die kies dat jazz-musikante ‘n front voorhou.
Hulle sê die lewe is wonderlik,
en sodra hulle hul instrumente begin speel,
sien jy die pyn op hul gesigte, en hoor dit in hul musiek.
Winter is ook ‘n seisoen van die hart.
Soos somer, herfs en lente.
Die pyne van die lewe tref ons almal.
Maar ons weet in winter dat lente net om die draai is!
Robert Louis Stephenson vertel dat hulle in hul kinderjare
nog gaslampe op straat gehad het.
As kind was hy baie bang vir die donkerte.
Elke keer as die werker die gaslampe in hul straat aangesteek het,
het dit vir hom gevoel of hy gate in ‘n donker muur steek.
Met elke gaslamp se lig, is dit soos lig wat deur die donkerte breek.
God laat ook die lig in die wêreld deurbreek!
Hy bring lig in die donkerte van pyn.
Met God by jou kan jy verseker weet die lig sal deurbreek!
Uitkoms is waar God is!
Wat doen ‘n mens in tyd van pyn?
Wees en leef bewustelik in God se teenwoordigheid.
Ons kan saam met Jakob in Genesis 28:16 uitroep:
“Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie eens besef nie.”
Ons kan ongeveer 40 dae leef sonder kos.
Drie dae sonder water.
Nie een dag sonder God nie!
Hý laat jou asem haal.
Met longe.
En met siel.
Ernest