Verskillende mense het verskillende tyd nodig,
om verskillende dinge te doen, of te snap.
Party mense vat lank om te besluit, en ander besluit gou.
Party is weer oorhaastig en maak foute.

Ons word dikwels deur tyd beheer.
Sekondes tel. Tyd is geld.
Kalenderdae spoed verby.
Dit voel vir baie van ons of ons heeltyd “agter” is!
Party word moedeloos en verloor spoed.
Ander laat die broodnodige verbyglip,
en spandeer tyd op onbenullighede.
Ons dink selfs ons kan tyd inhaal…!

Ons moet eintlik besin en met ons oog op iets anders leef,
as net op die horlosie en kalender.
Ons moet met geloofs-oë op Jesus gerig leef.
Op die dinge wat daarbo is.
So sal ons meer kwaliteit tyd leef, as net kwantiteit tyd.
Ons sal dit wat ons doen, beter doen.
Ons sal minder net probeer “klaar kry”.

Dit beteken nie om tyd te mors nie.
Ons leef een dag op ‘n slag,
en moet dit volpak met kwaliteit lewe.
Die Here het môre weer baie vir ons om te doen.
Maar leef en doen, wat jy vandag leef en doen, voluit!
Jesus se goeie raad in Matteus 6:34 is:
“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie,
want môre bring sy eie bekommernis.
Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

Ludwig Köhler het geskryf:
“Lewe asof jy môre moet sterf,
en leef tegelykertyd asof jy nog eindelose tyd het….
As jy troos of liefde of hulp kan gee,…gee dan kwistig van jou tyd.”
Dan is die tyd ryp. Dan gee jy jou tyd!

Ernest