‘n Onmisbare deel van ons lewe is ons gebedslewe.
Nie net die tafelgebed, of ‘n haastige gebed hier en daar nie…
Reeds in die Ou Testament sien ons dat God die Skepper
en Onderhouer is van die ganse kosmos.
Psalm 19:2-4:
“Die hemel getuig van die mag van God,
die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.
Die een dag gee die berig deur aan die ander,
en die een nag deel die kennis aan die volgende mee.
Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem.”
Met ons as mense is dit egter anders!
God openbaar Hom aan ons sodat ons met Hom kan praat!
Ons leef nie sonder spraak en sonder woorde saam met Hom nie!
Die einste Psalms is vol van gesprek tussen God en mens!
Dit getuig van persoonlike verhouding, en gesprek, en intimiteit.
Ook die res van die Bybel roep ons op om te bid.
Dit bly ‘n misterie dat die Almagtige God in gesprek met ons tree,
deur die Woord en gebed!
Tog kies God, om baie belangrike redes,
om in persoonlike gesprek met ons te tree.
Voortdurend!
God kom in liefde en genade na ons, deur Woord en gebed.
En ons kan deurlopend na Hom gaan,
juis omdat Hy hierdie wonderlike gawe aan ons gee.
Maak tyd vir intieme gesprek met God!
Dit is lewe!
Ernest