Is dankie nie ‘n absolute towerwoord nie!
Dit maak dinge in jou los, en laat jou emosies ervaar,
wat moeilik in woorde uitgedruk kan word!
Een van die wonderlikste dinge wat mens ervaar,
wanneer jy dankbaarheid beleef, is dat jy dit eenvoudig wil aangee!
Seker omdat dit ten diepste die Here toekom!
Dankbaarheid kom bo alles die Here toe!
Jakobus skryf tog in sy brief dat elke goeie gawe,
en elke volmaakte geskenk, van God af kom!
Ware dankbaarheid, keer elke stukkie selfsug in jou hart heeltemal om!
Probeer eendag die ou fliek “Brother Sun Sister Moon” te sien kry.
Dit gaan oor die dankbare en eenvoudige lewe van Fransiskus van Assisi.
‘n Hoogtepunt van ekstatiese dankbaarheid,
vind ons in die dankgebed van Fransiskus van Assisi, die Laudates creaturarum.
Vry vertaal klink dit ongeveer so:
“Allerhoogste, Almagtige, goeie Heer en God,
aan U kom lof, aanbidding, heerlikheid en eer toe.
Geen tong is waardig om dit aan U te meld nie.
Lof kom U toe deur al U geskapenes,
in die besonder deur Broer Son,
die fontein van die dag, pragtig en skoonvonkelend in sy glorie,
helder tekendraer van Uself, Here.
Lof kom U toe deur Suster Maan,
en ook die sterre wat U so skitterend in die hemelruim plaas.
Lof kom U toe deur Broer Wind, ook deur vars lug, en wolke,
en elke duim van die weer waardeur U die skepping in stand hou.
Lof kom U toe deur Suster Water, sy wat diensbaar en nederig is,
lieflik lewegewend!
Lof kom U toe deur Broer Vuur, wat die nag lewend laat word,
heerlik speels vurig en sterk!
Lof kom U toe deur Suster Moederaarde, sy wat ons voed en onderhou,
met haar rykdom van vrugte, blomme en gras.
Lof kom U toe deur almal wat uit liefde vergewe,
versoeking en swakheid deurstaan,
mense wat in vrede met lyding swaarkry, en van U ‘n kroon sal ontvang.
Lof kom U toe deur Suster Dood, dood van die liggaam.
Lof kom U toe deur Broer Lewe, ware ewige lewe.
Alle skepsels loof en prys die Here! Dien Hom met dankbaarheid!
Bring dank aan Hom!”
Dankie, dankie, dankie, Here!
Ernest