Ouers loop dikwels met skuldgevoelens oor hul kinders.
Skuldgevoelens kan maklik in ‘n moeras ontaard.
Dit kry naderhand die oorhand oor jou lewe.
Jy wonder wat het jy verkeerd gedoen,
dat jou kind afdwaal en die verkeerde vernietigende lewensstyl volg.
Eintlik het ouers dan niks anders gedoen, as ander ouers met hulle kinders nie.
Johannes 9:1-12 bemoedig ouers ten opsigte van ouerskap.
Die dissipels wil by Jesus weet wie se skuld dit is dat die man
van geboorte af blind was? Is dit sy eie skuld, of die skuld van sy ouers?
En dan antwoord die Here Jesus:
“Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers se sonde nie,
maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.”
Daar is dus baie rolspelers en baie faktore ter sprake.
Dit begin by die kind self, en sluit ook die ouers, die Here,
vriende, familie, onderwysers, en selfs die duiwel in…
Dan is daar ook nog omgewingsfaktore wat nie noodwendig mense is nie.
Ouers kan hul bes doen, en in dieselfde huis kinders dieselfde opvoed,
met verskillende resultate.
Selfs dit wat ouers doen of nie doen nie,
is nie noodwendig die eintlike oorsaak van uitkomste nie.
Die Here vra nie volmaakte ouers nie.
Hy vra net ouers wat hul kinders so grootmaak,
dat hulle “die werke van God” sigbaar maak.
Kinders kan nog steeds hul eie keuse uitoefen,
ten spyte van hul ouers se insette.
God se genade bly oorvloedig vir elke ouer en elke kind.
Daarom kan ons bly bid vir mekaar.
Sy genade bly groter as moontlike misstappe wat ons begaan.
In plaas van skuldgevoel, waardeur absoluut niks bereik word nie,
en wat deur die duiwel self op jou afgeforseer word,
kan ons eerder aan mekaar bly bou,
met elke dag se moontlikhede tot ons beskikking,
en vir mekaar bly bid,
met die wete dat God self deur ons gebede werk!
Ernest