Die aand toe Jesus en sy dissipels in die bovertrek bymekaar was,
in Johannes 13:1-17, het hulle seker moeg, honger, en vuil,
hulself op die kussings gaan neerlê, en wag vir die ete.
Al wat hulle op daardie oomblik nodig gehad het,
was ‘n slaaf wat hulle voete kon was.

Dan maak die Here Jesus self ‘n handdoek om Hom vas,
en doen juis dit wat ‘n slaaf sou moes doen.
Hy was hulle voete!

In hierdie enkele sigbare teken van dien,
het Jesus sy hele aardse bediening saamgevat.
Hy, die Here, buig voor hulle wat dit nie verdien nie,
en was hulle voete.
Hy het na die wêreld gekom om te dien.
Om eergierige mense te wys hoe armsalig hulle is,
om te wys wat dit regtig is om te dien,
wat dit vra om Hom te volg.
Daarom sê Hy in vers 15:
“Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel,
en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.”

Dat God so laag kom neerbuig verstaan ‘n mens net eenvoudig nie.
Dat ‘n mens jou moet verneder om ander te dien,
kom nie maklik vanself nie.
Dit is baie makliker om bedien te word, geëer te word.
Maar dit wat Jesus hier doen,
is die pad waarlangs die koninkryk van God
tot binne-in mense se harte kom.

Dien die Here!...juis wanneer jy mense dien!

Ernest