Ons wens dikwels dat dinge anders kan wees as wat dit is.
Ons het dikwels die onrustigheid dat dinge nie sal verander nie.
Dat ons wense en drome nie sal waar word nie.

Ons moet bly wens en droom.
Wanneer ons dit nie meer doen nie, sal dit baie sleg wees.
Die Here wil nie hê dat ons net ophou drome droom en wens nie.
Hy wil hê dat ons sal aanhou ontwikkel en groei.
Die Woord van God is vol daarvan,
dat ons deur die inwoning van die Heilige Gees steeds groei,
verander, ontwikkel, drome bewaarheid, wense sien waar word.
In Joël 2:28-29 belowe die Here dat, waar sy Heilige Gees aan die werk is,
Hy ons laat drome droom en visioene sien!
“Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense,
julle seuns en julle dogters sal as profete optree,
julle oumense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien.
In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom, selfs op die wat nie in aansien is nie.”

Wat behels jou drome en wense?
Maak dit ‘n verskil in hierdie wêreld?
Beleef mense rondom jou dat jy in staat is om te droom,
oor God se koninkryk wat hier kom?
Om saam met God te droom oor dinge ver bo ons vermoë of beredenering.
Dat my wense en drome deur God gebruik kan word tot sy eer!
Bly droom en wens, ter wille van God en sy koninkryk, daar waar jy leef,
sodat dit dáár deur jou kan kom!

Ernest