Mense soek voortdurend na geluk.
Die versoeking is egter groot dat mense net hul eie geluk wil vind.
Dikwels neem ons dan nie ons medemens in ag nie.

‘n Chinese legende vertel van ‘n oorlog tussen
twee buurvolke wat onvermydelik was.
Verspieders is van weerskante gestuur om te bepaal waar
die inval oor die grens die maklikste sou wees.
Verspieders van weerskante bevind toe dat daar net een geskikte plek is.
Maar op daardie spesifieke plek woon ‘n kleinboer in ‘n nederige huisie.
Hy, en sy vrou, en kind, is baie gelukkig, en het mekaar baie lief.
Die gemeenskappe aan weerskante van die grens het selfs samgestem,
dat hierdie gesin seker die gelukkigste mense op aarde is.
Indien die aanval oor hulle grond sou plaasvind, sou dit hul geluk wegneem.
Die verspieders aan weerskante het aanbeveel dat die inval nie plaasvind nie,
en die generaals aan weerskante het, sonder om dit van mekaar te weet,
beide besluit om nie aan te val nie, en van die oorlog het niks gekom nie!

Dit is eintlik niks anders nie, as die eenvoudige uitleg van die gebod
dat ons mekaar moet liefhê soos onsself.
Dat ons ander mense se geluk baie hoog moet aanslaan.
Dat ons moet meewerk aan ander mense se geluk.

Geluk is, soos baie ander dinge in die lewe, ‘n keuse wat berus op ‘n wilsbesluit.
Dit is nie die noodlot wat ons geluk bepaal nie.
God plaas dit binne elkeen se bereik.
Jesus kom illustreer dit op aarde.
In Matteus 5 sê Jesus dan “geseënd/gelukkig” is die wat soek na die koninkryk van God.
Dit is om in liefde mekaar se geluk te beskerm, in die koms van God se koninkryk.
Dit laat ons by die Bron van alle geluk uitkom.

Kies geluk…wees gelukkig…maak gelukkig!

Ernest