Om gelukkig of ongelukkig te wees,
hang baie af van die manier waarop jy na jou omstandighede kyk.
Fokus jy op die blomme of op die onkruid?
Onthou, geluk is ‘n wilsbesluit.
Elke jaar het 365 dae, plus een vir skrikkeljaar.
Maar eintlik tel 3 dae.
Aan twee van die drie dae kan ons weinig doen.
Aan gister byna niks, en aan môre baie min.
Maar vandag is die dag waarin ons baie kan doen!
Elke nuwe dag is ‘n kraaknuwe skoon bladsy!

Die Bybel maak ook baie van vandag!
Dink maar aan Jesus se woorde aan Saggeus in Lukas 19:5:
“Saggeus, kom gou af,want ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”
Aan die kruis sê Jesus vir die misdadiger langs Hom in Lukas 23:43:
“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Psalm 95:7 en Hebreërs 3:7 lê ook klem op die belang van vandag,
en sê ons moet vandag na die stem van die Here luister.

Elke dag is ‘n nuwe geleentheid om te kies.
Al is daar dae wat pyn en donker bring,
het ons steeds die keuse om in die ellende vas te val,
of daarbo uit te styg,
in die oorwinning van Christus.

Ernest