Is ons geloofwaardig?
Is ons geloofwaardige Christene?
Het ons net ‘n klomp leerstellings aangeleer,
of leef ons dit ook geloofwaardig uit?
Geloofwaardige Christenskap is waarna die wêreld smag.
Dit gaan nie net oor wat ons behóórt te doen nie,
maar veral ook wie ons ís.
Geloofwaardige Christene leef totaal nuut.
Iemand het gesê hulle leef “bonatuurlik”.
Hulle leef saam met die lewende, dinamiese, kommunikerende God!
Hulle hoor God se stem en het die moed om te doen wat Hy sê.
Daarom moet ons die beeld van Jesus vertoon.
Ons droom saam groot oor die koninkryk van God.
Ons leef met ‘n sagte gees.
Ons weet waarheen ons op koers is.
Ons besorgdheid oor ander mense is opreg en onbegrens.
Ons oortuigings in die Here is op rots gebou.
Ons medelye met mense in nood kom uit ons hart.
Ons loop oor van vreugde en dankbaarheid,
ten spyte van die moeilikste omstandighede.
Ons tree met die wysheid op wat net van die Heilige Gees kom.
Daar is nie ‘n kitsgids en ‘n wenresep nie.
Maar geloofwaardige Christene het een ding in gemeen:
‘n sterk persoonlike verhouding met die Here.
‘n Verhouding wat elke dag staan onder die
vernuwing deur die Heilige Gees.
Psalm 1:1-3:
“Dit gaan goed met die mens…
wat in die Woord van die Here sy vreugde vind,
dit nag en dag oordink.
Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra,
en waarvan die blare nie verdroog nie.
Ernest