Onvolwasse geloof bring verdeeldheid.
Ons beleef dit dikwels onder gelowiges.
“As een van julle sê: “Ek is vir Paulus”, en ‘n ander:
“Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie?” 1 Kor. 3:4.
Verdeeldheid weerstaan nog die Heilige Gees.
Eie ekke en eie voorkeure is nog te belangrik.

Onvolwasse geloof bring eiewysheid.
Onvolwasse geloof is baie seker van sy eie standpunt,
en wil nie na wysheid luister nie.
1 Kor. 3:19 sê:
“…, want die wysheid van hierdie wêreld, is dwaasheid by God.”
Menslike eiewysheid bring dikwels ook verdeeldheid!
Dit is om op jou punt te staan ten koste van alles.

Onvolwasse geloof bring wettisisme.
Die kern van ware godsdiens is geloof.
Om totaal afhanklik van die Here te leef.
Om totaal aan Hom oorgegee te leef.
Dit is ‘n persoonlike verhouding met die Here self.
Dit is nie reëls en wette wat ons moet gehoorsaam,
om vir God aanvaarbaar te wees nie.
As ons self probeer om vir die Here aanvaarbaar te wees,
deur eie pogings, is dit ‘n kragtelose en vergeefse godsdiens.
God vra jouself!...nie jou kerkbesoek, tiendes, of wat ookal nie…
Gal. 3:3: “Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin,
wil julle nou in eie krag eindig?”

Onvolwasse geloof bring liefdeloosheid.
Wanneer ons aan God behoort,
moet ons oorloop van liefde, want God is liefde!
Onvolwasse geloof maak jou egter krities teenoor mense.
Jy leef met vooroordeel, en agterdog.
Dikwels maak onvolwasse geloof ons ook venynig.
Onvolwasse geloof laat jou dikwels as
‘n “moeilike” persoon bekend staan.
Daarom sê 1 Kor. 13:1: “Al praat ek die tale van mense en engele,
maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal,
‘n galmende simbaal geword.”

Ernest