Geestelike groei behels die nuwe lewe

Ef. 4:24 sê:
“Lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is:
Lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.”

Volkome volgens die wil van God?
Is dit moontlik? En dit is nie al nie! Daar staan ook: wees heilig!
Feit is dat God nie tevrede is dat ons min of meer volgens sy wil lewe nie.
Ons begeerte moet wees om volkome volgens sy wil te leef.
Heilig beteken volkome aan God toegewy. Dit is hoe ons moet lewe.

Ef. 4:25-28 gaan dan verder en verduidelik dit ook in praktiese terme.
Dit is om weg te leef van valsheid af. Om die waarheid te leef en te praat.
Ons volg nou vir Jesus, wat Homself “die waarheid” genoem het.
Ons getuienis moet ook die waarheid wees. Betroubaar.

Vers 26 sê ons kry ook ons humeur onder beheer.
Geestelike volwassenheid het beheer oor jou humeur.
As jy kwaad word, moenie sondig nie!
Die Gees is nou in beheer van jou lewe.
Hy sal jou help om jou humeur in toom te hou. Laat Hom toe!

Vers 28 sê verder die nuwe mens steel nie meer nie.
Besittings en geld is deel van ons alledaagse lewe.
Dit is waar die nuwe lewe grondvat.
Ons moet deur werk op eerbare manier in ons
en ons medemens se lewensonderhoud voorsien.
Ons moet dit wat ons het ook met die armes deel.
Die nuwe lewe laat jou allermins aan geld en besittings vasklou.
Dit maak jou hart en hande oop.

Die nuwe lewe raak ook jou taal, hoe jy praat!, sê vers 29:
“Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie;
praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede,
sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.”
Ons taalgebruik is deel van ons getuienis.
Of ons braai, of werk, of sport beoefen,
of met iemand op straat praat, oral.

Uiteindelik, sê vers 30, is die nuwe lewe om
nie die Heilige Gees van God te bedroef nie!
Dit is ‘n erge gedagte, om die Gees van God hartseer te maak!
Die Gees het ons beseël as die eiendom van God!..sê vers 30.
Ons sou nooit aan God kon behoort
as dit nie vir die werk van die Heilige Gees was nie!
Daarom bedroef ons die Gees as ons voortgaan met die ou lewe.

Vers 32 sê dan uiteindelik dat die nuwe lewe ook
mekaar vergewe, soos God ons vergewe het! Soos God!
In ons nuwe lewe moet ons al hoe meer “soos God” lyk.
Verregaande? Nee. Ons is geskep na sy beeld.
Kyk weer wat staan hierbo in vers 24!
Die nuwe lewe is al hoe meer gelyk aan die beeld van Jesus.
Leef die nuwe lewe!!

Ernest