Sente word as die heel onbelangrikste geldeenheid gesien.
Sente maak net ons beursie vol en beteken niks. So dink ons.
Baie mense sal nie eers ‘n sent optel wat hulle op die grond sien lê nie.
Selfs nie eers ‘n vyfsent-, tiensent-, twintigsent- of vyftigsent stuk nie!
Maar daar is organisasies in barmhartigheid wat die waarde hiervan besef.
Dit word mettertyd ‘n groot bedrag. Daarom is daar sentleggings,
en so word die bydrae van kinders gou baie werd.
Klein donasies maak uiteindelik ‘n groot verskil.
Elke sent tel!

Die Bybelse gebeure van Dawid en Goliat vertel van ‘n skynbaar onbelangrike
persoon wie se geloof ‘n groot verskil gemaak het.
Wanneer Dawid aanbied om Goliat te konfronteer sê koning Saul:
“Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is jonk.” 1 Sam. 17:33.
Maar Dawid se geloof in God was groot, al was hyself hoe klein.

Dawid het nie aan die “sent” sindroom gely nie.
Hy het nie gedink sy bydrae kan maar net gering wees nie.
Hy weet wat die Here al gedoen het, vers 37.
Hy het nie ‘n sin van minderwaardigheid of magteloosheid
ten opsigte van ‘n “oorweldigende” probleem nie.
Hy luister nie na Saul se pessimisme of Goliat se dreigemente nie.
Hy vertrou alleen op God omdat Hy weet wat God doen.
“Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer,
Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.” 1 Sam. 17:37.

Ons voel ook dikwels soos ‘n “sent”, waardeloos, onmagtig.
Wanneer ons egter op die Here vertrou,
en op wat Hy deur ons wil en kan doen,
sal daar ‘n groot verskil gemaak word, deur Hom!
Selfs ons”klein” dade van geloof het groot effek in God se koninkryk.
Elke sent tel!

Ernest