‘n Christen sportverslaggewer vertel van ‘n gebeure wat hy beleef het.
Na ‘n wedstryd, wat die span sleg verloor het,
sit hy en gesels met een van die spelers wat dit kalm en bedaard hanteer het.
Hy wou weet wat die verskil maak, en hoekom hy die groot nederlaag
soveel anders hanteer as baie van die ander spelers.
Die afrigter het verbygestap en hom vererg oor die “houding” van die speler.
Die speler het aan die verslaggewer gesê:
“Jammer vir die uitbarsting, hy begryp dit net nie.”

Ons lewe in ‘n wêreld waar baie mense “dit net nie begryp nie.”
Hulle verstaan nie, dat hoewel ons ons bes doen om te presteer,
dit dikwels nie genoeg is nie, en dat ons in so ‘n situasie steeds die Here eer.
Ons beoefen selfs ons sport en ontspanning tot eer van die Here.
So ook ons beroep, dagtaak, en sleurwerk.

Paulus sê in 1 Kor. 9:12 dat ons alles moet verduur,
sodat ons geen hindernis in die weg van die evangelie plaas nie.
Die doel van elke gelowige is om die Woord van God uit te dra,
maak nie saak waar en wat gebeur nie. Wen of verloor.
In vers 19 sê Paulus hy het hom aan almal diensbaar gestel,
om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.

Die beste manier om dit te doen,
is om so te lewe dat die verskil in jou lewe raakgesien word.
Dat mense van jou ‘n verduideliking eis oor “die hoop wat in julle lewe” 1 Pet. 3:15.
Dat jy in nederlaag of oorwinning steeds met eer aan God kan leef.
Dat die evangelie glashelder deur jou lewe praat!

Ernest