Psalm 13 is só ‘n treffende Psalm,
van iemand wat baie persoonlik worstel met die Here.
Iemand wat eintlik die Here direk beskuldig!
“Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd?
Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?” - vers 2.
Die skrywer beskuldig die Here van afwesigheid!
Meer nog, dat Hy sy rug op hom draai, “wegkyk”.

Hy gaan nog verder in vers 3:
“Hoe lank moet ek nog my eie planne maak,
en my dae met kommer deurbring?”
Hy beskuldig die Here dat Hy nie vir hom omgee nie.
Dat Hy toelaat dat die vyand hom oorheers, vers 3.

Een ding is seker, al beleef hy God ver,
hy praat baie persoonlik met Hom.
“Luister tog en antwoord my, Here my God!
Gee my tog nuwe lewenskrag…”, bid hy in vers 4.

Dit is treffend dat hierdie gebed ook in die Bybel staan!
God wil hê ons moet ons hart met Hom uitpraat.
Ons hoef nie bang te wees om te sê presies hoe ons voel,
en wat ons beleef of dink nie.

Kyk net wat gebeur as ons dit opreg doen.
Hierdie “opstandige” bidder se gebed gaan oor in vertroue,
geloofsgroei, ‘n hart wat dankbaar is,
‘n hart wat juig en sing tot eer van die Here,
en uiteindelik die besef dat God nog deurgaans aan hom goed gedoen het,
al het hy nie so gedink, of dit so beleef nie.
Kyk hoe praat en sing hy dit met vers 6:
“Ek hou vas aan U troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart.
Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.”

Moenie bang wees om jou hart met die Here uit te praat nie.
So sal jy Hom opnuut ontdek vir Wie Hy is en wat Hy doen,
in jóú lewe, persoonlik!

Ernest